Hoop Nogtans

Hoop Nogtans

por Francois Bredenkamp
Temporada 26
HOE OM SINVOL TE BID (Kol. 1:9-14) ep. 2632
Bronnie Ware (gebore in 1967) is ‘n Australiër wat mense versorg gedurende die laaste fase van hulle lewe hier op aarde. Sy het jare lank na mense geluister wat juis in hierdie fase van hulle lewe was. Wat haar opgeval het, was dat hulle diepste spyt gewoonlik nie gegaan het oor spesifieke dinge wat hulle nie bereik het nie. Later het sy die temas wat telkens in hierdie gesprekke na vore gekom het, saamgevat in haar boek The Top Five Regrets of the Dying. So baie mense staar die dood in die oë met spyt dat hulle nie geleef het volgens dit wat werklik belangrik was nie. Dink net daaraan: Jy kom aan die einde van jou lewe en skielik sien jy hoe onbelangrik die meeste van die dinge is wat jou besig gehou het - die opgang wat jy gemaak het in jou werk, die besittings wat jy vergader het, hoe belangrik ander mense se goedkeuring was... Jy kyk terug oor jou lewe en besef: Jy was my hele lewe lank besig. Jy het hard gewerk. Jy het baie bereik. Maar het jy ooit stilgestaan om te vra, “Wat maak regtig saak?” Vir die kind van God is daar een belangrike vraag wat alles in perspektief plaas: “Is die lewe wat ek besig is om te leef, in lyn met die doel waarvoor God my geroep het?” Dit begin deur vir die Here te vra, “Here, watter soort persoon wil U hê ek moet word? Hoe gaan die tipe mens wat ek besig is om te word, eer aan U bring?” Kom ons leer by Paulus, in Kol. 1:9-14, hoe om sinvol te bid – vir onsself, vir ander mense. Hier dis die dinge wat ons lewens in lyn bring met die wil van God. NLV 1:9-14 9Van die dag af wat ons dít oor julle gehoor het, hou ons daarom nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy geestelike wysheid en insig aan julle sal gee sodat julle heeltemal seker sal wees van wat Hy wil hê. 10Ons bid ook dat julle leefstyl tot eer van die Here sal wees om Hom te behaag deurdat julle lewe vol goeie werke sal wees en dat julle God al hoe beter sal leer ken. 11Ons bid dat Hy deur die krag van sy goddelike heerlikheid julle sal toerus met al die krag wat julle nodig het om in alle omstandighede geduldig te volhard terwyl julle met blydskap 12altyd die Vader dank dat Hy julle geskik gemaak het om in die erfenis van God se mense te deel, die erfenis wat wag vir mense wat volgens sy wil lewe. 13Hy het ons verlos uit die mag van die duisternis en ons oorgebring onder die koningsheerskappy van sy geliefde Seun. 14Deur die Seun het ons verlossing verkry, naamlik die vergewing van sonde. https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/ https://rss.com/podcasts/hoop-nogtans/
JESUS CHRISTUS TROON UIT BO ALLES EN ALMAL! ep. 2631
JESUS CHRISTUS TROON UIT BO ALLES EN ALMAL! In die jaar 1893 bied die Amerikaanse stad Chicago, Illinois ‘n wreldklas skou aan om Christopher Columbus se vaart na Amerika te vier. Meer as 21 miljoen mense woon die skou by. Een van die uitstallings word genoem die Wêreld Parlement van Godsdienste. Verteenwoordigers van verskillende gelowe van oraloor probeer die beste aspekte van hulle geloof voorhou. Die Amerikaanse evangelis D L Moody sien die skou as a fantastiese geleentheid vir evangelisasie. He preek in kerke, teaters en selfs ‘n sirkustent. Mense naby aan hom moedig hom aan om die sg. Wêreld Parlement van Godsdienste aan te vat. Hy weier. Hierdie woorde van D L Moody is vandag nog net so nodig om te hoor en miskien selfs nog belangriker: “Ek gaan Jesus Christus se aantreklik maak dat mense na Hom sal draai.” D L Moody is ten volle oortuig dat Jesus Christus die enigste Redder op aarde is. Jesus Christus is nie maar net een geestelike leier tussen baie ander nie. Moody se benadering het duisende mense in Chicago tot geloof in Jesus Christus gebring. Mense moet hoor van Jesus Christus; die waarheid oor Jesus Christus oortref by verre enigiets wat enigiemand anders kan leer. MY NUWE REEKS IS OOR PAULUS SE BRIEF AAN DIE KOLOSSENSE: JESUS CHRISTUS TROON UIT BO ALLES EN ALMAL! https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/ https://rss.com/podcasts/hoop-nogtans/
VOORKOMING VAN SEERKRY IN DIE KERK
VOORKOMING VAN SEERKRY IN DIE KERK: Ek onthou nog goed die Saterdagoggend voordat ek verwelkom sou word deur die nuwe gemeente wat my beroep het. Ek is vinnig by Game in om ‘n paar goedjies vir ons nuwe blyplek te kry. Twee mans staan en gesels, en my oor vang, “By watter gemeente aanbid julle nou?” Waarop die ander man antwoord, “Ons gaan nie meer kerk toe nie; ons het seergekry in die kerk...” ‘n Ongemaklike stilte het in die lug bly hang. Wat sê mens vir iemand daar in die middel van ‘n besige winkel? Dis amper al soos ‘n idioom in die volksmond om te praat van ‘seerkry in die kerk’, so algemeen is die gevoel by so baie mense dat hulle getraumatiseer is in die kerk. Mense beleef dieselfde simptome wat iemand beleef wat deur ‘n intense traumatiese ervaring gegaan het. Die simptome is baie soos dié van post-traumatiese stres steurnis - intense angs en paniek, nagmerries, gedagtes wat oor en oor maal oor ‘n saak, flashbacks, en ander onaangename simptome. Wat met hulle in die kerk gebeur het oefen steeds ‘n wurggreep uit op hul emosies. Hoe meer hulle daarvan wil wegkom, hoe minder suksesvol is hul hierin. Die één plek waar mense veilig en gekoester moes voel, waar hulle liefde, aanvaarding en vergifnis moes beleef het, het die plek van trauma vir hulle geword. Kerk was veronderstel om die plek te wees waar hulle met liefde omring word. In plaas van liefde, daardie gesindheid van “ons is hier vir jóú; hoe kan ons jou help?” beleef mense dat hulle in die gemeente is vir die voordeel wat hulle vir die kerk bring. Hulle word met oop arms verwelkom, solank hulle van waarde is. Die boodskap wat hulle hoor, is nie een van ware omgee vir húlle nie, maar een van ‘Gee!” Gee jou tyd, gee jou tiende, gee jou talente, gee jou teenwoordigheid. Kerk is waar hulle ware aanvaarding moes aanvaar, daardie gesindheid van “ons oordeel jou nie; ons gaan jou liefhê en God toelaat om in jou lewe te werk soos Hy wil en teen Sy tempo en soos jy gereed is daarvoor.” Maar wat hulle ervaar het is dat hul eerder verdoem word vir die tekortkominge in hul lewe. Hul voel min aanvaarding; eerder skande en verwerping. Kerk is waar vergifnis uitgeleef moet word. In plaas van vergifnis, “God vergewe jou sonde en ons ook; ons gee jou nog ‘n kans, en nog ‘n kans, en weer nog ‘n kans, want dit is hoe God met óns doen,” kry hulle eerder te doen met ‘n gedurige foutvindery, genadelose kritiek, verdagmakery, en die kwetsende skindertong. En so word die plek van aanbidding ‘n toksiese plek, wat sleg vir jou kan wees; gevaarlik vir jou, nie alleen vir jou geestelike lewe nie, maar vir elke aspek van jou lewe. Traumatiese ervarings in die kerk sny ‘n baie diep seer in mense se harte. Ons kom aan die einde van Paulus se brief aan die Galasiërs. Met ‘n boodskap vir die kerk vandag. As ons die boodskap verontagsaam, word die bymekaar kom van God se mense toksiese plekke waar mense diep seerkry. Uit wat hy die apostel Paulus skryf in sy laaste paar sinne kry ons ‘n goeie idee hoe lyk ‘n kerk wat mense misbruik en gaan seer maak. En dit hoef nie so te wees nie.
Genade-deurdrenkte verhoudings
Genade-deurdrenkte verhoudings Daar was ’n tyd toe Hansie Cronjé een van die mees gerespekteerde mense in Suid-Afrika was. Hy was nie net die kaptein van die Proteas nie. Hy was ’n volksheld. Onder sy kapteinskap het Suid-Afrika 99 eendagwedstryde gewen. Hy was bekend as ’n sterk leier, ’n man van beginsels en iemand wat openlik oor sy Christelike geloof gepraat het. En toe, in April 2000, stort alles in duie. Die nuus breek dat Hansie kontak met beroepswedders gehad het en geld van hulle ontvang het. Aanvanklik het hy dit ontken. Mense het hom geglo. Mense het hom verdedig. Maar Hansie het geweet hy vertel leuens. Uiteindelik kon hy nie langer met die leuens saamleef nie. Hy erken dat sy aanvanklike ontkennings leuens was. Hy hét geld van beroepswedders ontvang en ander spelers by sy optrede probeer betrek. Hy het erken: “Ek was nie eerlik nie en ek vra onvoorwaardelik om verskoning.” En toe sê hy iets wat ’n mens iets van sy gebrokenheid laat sien: “Woorde kan nie begin beskryf hoeveel skaamte, vernedering en pyn ek ervaar nie.” Later het Hansie erken wat eintlik agter sy ondergang gelê het: ’n liefde vir geld. Die groot kaptein was gebreek. Die held was verneder. Die man wat deur duisende bewonder is, kon skielik skaars mense in die oë kyk. Op die oggend toe sy bekentenis bekend geword het, het hy vir pastoor Ray McCauley op die Kaapstadse lughawe ontmoet. ’n Ooggetuie beskryf Hansie as stil en in trane; hy kon McCauley skaars in die oë kyk. En wat doen McCauley? Hy sê nie: “Hansie, dit maak nie saak wat jy gedoen het nie.” Want dit het saak gemaak. Maar hy sê ook nie: “Hansie, jy het ons teleurgestel. Jy het die kerk se naam skade aangedoen. Daar is nie meer plek vir jou tussen ons nie.” Nee. Hy moedig hom aan: “Vertel net die waarheid. Vertel alles.” Maar hiervoor is genade-deurdrenkte verhoudings onder gelowiges nodig. Paulus skryf in Galasiërs 6:1: “Broeders, as iemand deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so iemand reghelp met die gees van sagmoedigheid…” Let op wat Paulus nie sê nie. Hy sê nie: Ignoreer die sonde. Hy sê nie: Maak asof dit nie gebeur het nie. Hy sê nie: Verskoon dit. Maar hy sê ook nie: Gooi die sondaar weg nie. Hy sê: “Help hom reg.” Herstel hom. Bring hom terug. Doen dit met sagmoedigheid. En dan volg vers 2: “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.” Dít is hoe ’n gemeente met mooi harte lyk, ‘n gemeente wie se verhoudings met mekaar genade-deurdrenk is. ’n Gemeente met mooi harte is nie ’n gemeente waar sonde nie ernstig opgeneem word nie. Dit is ’n gemeente waar sonde ernstig opgeneem word, maar genade nóg ernstiger. Dit is ’n plek waar iemand wat geval het, nie net vingers sien wat na hom wys nie, maar hande wat na hom uitreik. ’n Plek waar iemand kan sê: “Ek het gesondig.” “Ek het mense seergemaak.” “Ek is skaam.” …en dan ontdek: Hier is mense wat my nie gaan los waar ek geval het nie.
Christus het jou vrygemaak – bly daarom vry!
In die animasiefliek Despicable Me maak ons kennis met Felonius Gru – ’n onaangename karakter wat hom skynbaar verlustig in allerhande bose planne. Maar alles begin verander wanneer drie weesdogtertjies by hom kom woon. Gru besef baie gou dat hierdie drie dogtertjies sy ordelike bestaan behoorlik gaan ontwrig. Daarom besluit hy dat daar reëls moet wees. Baie reëls! “Okay! Clearly we need to set some rules. Rule number one: You will not touch anything!” Een van die dogtertjies vra: “What about the floor?” Gru antwoord: “Yes, you may touch the floor.” “What about the air?” “Yes, you may touch the air.” En dan kry sy natuurlik iets in die hande wat sy glad nie veronderstel was om aan te raak nie! Gru gaan voort: “Rule number two: You will not bother me while I’m working. Rule number three: You will not cry, or whine, or laugh, or giggle, or sneeze … So no annoying sounds!” Ons glimlag daarvoor, want Gru probeer elke moontlike situasie met nóg ’n reël beheer. Maar soms lyk godsdiens ontstellend baie soos Gru se huis. Reël nommer een: Jy mag nie dít doen nie. Reël nommer twee: Jy moet dát doen. Reël nommer drie: ’n Goeie Christen sal nooit só lyk nie. Reël nommer vier: As jy regtig geestelik is, sal jy hierdie dinge doen. Reël nommer vyf: As jy God se seën wil hê, moet jy... En stadig maar seker word die goeie nuus van Jesus Christus verander in ’n godsdiens van Jesus plus... Jesus plus sekere reëls. Jesus plus sekere gebruike. Jesus plus sekere geestelike ervarings. Jesus plus wat my kerk voorskryf. Jesus plus wat my geestelike leier sê. En dit is presies waarteen Paulus in Galasiërs waarsku. Christus het jou vrygemaak – bly daarom vry! Paulus skryf: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder ’n juk van diensbaarheid bring nie” (Gal. 5:1). “Staan vas!” Daar is iets militêrs aan hierdie uitdrukking. Moenie jou posisie prysgee nie. Moenie terugtree nie. Moenie toelaat dat iemand dit wat Christus vir jou verkry het, van jou wegneem nie. Verdedig die vryheid wat Christus jou gee. Paulus se waarskuwing in Galasiërs 5 is in besonder vandag baie relevant. Ek praat so ‘n bietjie hieroor en raak die onderwerp van toksiese kerke en manipulerende geestelike leiers aan.
Paulus se woorde
Ek vrees dat ek tevergeefs aan julle gearbei het (Galasiërs 3:24–4:11). Ek onthou, toe ons nog in Nieu-Seeland gewoon het, hoe die hele land ‘n paar keer aangegryp is deur die massa-stranding van loodswalvisse. Daar is met tye, om een of ander nog onverklaarbare rede, ‘n skynbare vasberadenheid by hulle om op die strand uit te spoel, dikwels in groot getalle. Vrywilligers stroom gewoonlik toe om te help om hierdie imposante diere weer terug te help diep-see toe. Totdat die gety reg is, word die walvisse natgegooi; hulle word deur omstanders getroos, en die walvisse se lot word die fokuspunt van media-belangstelling. Dan, as omstandighede gunstig is, word die walvisse teruggelei na waar hulle hoort. Die tragedie is egter wanneer hierdie diere weer terugdraai strand toe, asof hul gedryf word. Dis dan wanneer hartroerende tonele op die strand afspeel, wanneer die vrywilligers wat soveel ure en met soveel sorg hard probeer het om hulle te red, moet sien dat hul pogings tevergeefs was. Dis seker iets hiervan wat die apostel Paulus beleef wanneer hy aan die gelowiges in Galasië dink. Hy het hulle met soveel sorg bedien; hulle het pragtig tot bekering gekom, en Jesus Christus as Verlosser aanvaar. Hulle redding was uit genade, en hulle was so dankbaar teenoor God daarvoor. Húlle aandeel was om te glo; God het die res gedoen. Dis eers later wat daar Joodse gelowiges bykom wat daarop aandring dat hulle geloof onvolledig is. Om God regtig te behaag, het hierdie mense geleer, moet hulle nog iets doen. Hulle moet óók die Joodse wette onderhou. En so leer die Galasiërs hulle moet besny word. Hulle moet die 10 gebooie hou. Hulle moet die res van die honderde wette in die Ou Testament hou – sabbatte, heilige feesdae, reëls oor wat hulle mag eet en wat nie, en lang lyste van moets en moenies. Dán eers is God tevrede met hulle. Paulus se mening oor al hierdie dinge is duidelik: “Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het” (Gal. 4:11). Paulus se woorde is meer relevant vir die kerk vandag as wat ons op die oog af besef.
DIE KRUIS IS GENOEG!
Jare gelede, toe ons kinders nog klein was, is ons êrens heen op pad. Die pad was lank, die kinders raak verveeld, en begin stry met mekaar oor iets onbenullig. Ek doen wat ek dink my vaderlike plig is. Ek begin ‘n lesing oor hoe onaanvaarbaar hulle gedrag is. En wat ek van hulle verwag. En toe gebeur die totaal onaanvaarbare. Ek hoor kliphard van agter af: “Bla! Bla! Bla!” In die middel van ‘n sin raak my woorde op. Ons het geen disrespek toegelaat van ons kinders nie. En toe sien ek dit, ‘n massiewe vertoonbord langs die pad met ‘n advertensie vir ‘n selfoonmaatskappy met die woorde, “Bla! Bla! Bla!” groot daarop geskryf. Wat my dogter dáár gelees het, het alles oorheers wat ek besig was om te sê! Wat sy gesien het, was op daardie oomblik belangriker as wat sy verkeerd gedoen het. Wat sy gesien het, was belangriker as wat ek daarvan gedink het. En dìt, sê Paulus, is wat met die Galasiërs gebeur het toe hulle die evangelie die eerste keer gehoor het. Niks anders het saak gemaak nie. Die kruisdood van Jesus Christus en die redding wat Hy bewerk het aan die kruis, oortref by verre enigiets wat hul afgodstempels kon aanbied. Die boodskap van God se genade is soveel beter as waaroor die filosowe praat. Die boodskap van die kruis in uniek. Die kruisdood van Christus is voldoende. Maar iets onverklaarbaar het gebeur. Joodse gelowiges het daar aangekom nadat Paulus weg is en ‘n ander evangelie kom verkondig, ‘n valse evangelie, die boodskap dat wat Jesus Christus aan die kruis bewerk het, is nie genoeg nie. Hulle leer die Galasiërs hulle moet die wet onderhou, al die gebooie van die Ou Testament. Hulle moet besny word. Hulle moet sorgvuldig hou by die gebruike wat die Jode so sorgvuldig nakom. Galasiërs 3:1 O, onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Wat met die Galasiërs gebeur het, gebeur vandag nog. Ek praat meer hieroor in ny preek DIE KRUIS IS GENOEG!
Moenie iets probeer byvoeg by dit wat Jesus klaar gedoen het nie
Vir honderde jare het pelgrims die Kerk van die Heilige Trappe in Rome besoek. Volgens oorlewering is die Scala Sancta dieselfde trappe waarteen Jesus in die paleis van Pontius Pilatus moes opstap. Daar is 28 trappe. Pelgrims kom van heinde en ver om op hulle knieë teen hierdie trappe uit te kruip. Op elke trap word daar gebid. Die gedagte daaragter is eenvoudig: Hoe groter die inspanning, hoe groter die beloning. Hoe meer jy ly, hoe meer verdienste verwerf jy. Só wen jy die guns van God. Só ontvang jy vergifnis. Só behaag jy God. Só probeer ’n mens die glimlag van God oor jou lewe verdien. Maar niks kan verder van die evangelie af wees nie. Jy kan tienduisend trappe op jou knieë uitkruip totdat die bloed loop. Jy kan tienduisend gebede opsê totdat jy nie meer asem het nie. Jy kan jouself uitput in godsdiens, goeie werke en opofferings. Maar niks daarvan kan jou sonde wegneem of God se guns vir jou verdien nie. Die evangelie verkondig presies die teenoorgestelde: In Jesus Christus het God reeds alles gedoen wat nodig is om jou te red. Alles wat nodig was om jou met God te versoen, is deur Jesus Christus aan die kruis volbring. Jy hoef nie God se genade te verdien nie. Genade wat verdien word, is immers nie meer genade nie. Enige leer of gebruik wat uiteindelik steun op wat óns moet doen om deur God aanvaar te word, bots lynreg met die evangelie. Die boodskap van Galasiërs 2 is: Moenie iets probeer byvoeg by dit wat Jesus klaar gedoen het nie.
God verwelkom jou!
In 1973 word die liedjie “Tie a yellow ribbon round the ole oak tree” vrygestel. Die liedjieskrywers vertel van ‘n man wat na drie jaar in die tronk vrygelaat word. Hy skryf ‘n brief aan sy beminde. Hy is nie seker of sy hom terug gaan verwelkom nie. Hy skryf hy gaan die bus neem en by haar huis verby ry. As sy hom nog wil hê, moet sy ‘n geel strik om die ou akkerboom bind. Dit sal vir hom die teken wees dat hy welkom is. Maar as sy intussen vir iemand anders lief geraak het, sal hy verstaan en net verby ry. If I don’t see a ribbon round the ole oak tree I’ll stay on the bus, forget about us, put the blame on me Wat hy sien, oortref sy verwagting. Daar is 100 geel strikke om die ou akkerboom. Hy kan die boodskap nie mis nie. Hy is so welkom terug! Die evangelie van God se genade sê vir jou: Jy is welkom! God verwelkom jou! Ongeag wat gebeur het. Wat die evangelie van God se genade nie vir jou sê nie, is die volgende: Jy is welkom, maar oppas! Ek hou jou dop! Jy is op dun ys. Dink jy die man in die liedjie het elke oggend gaan kyk of daar ‘n geel strik is om te sê hy is welkom? Net om seker te maak hy is goed genoeg? Nou hoekom dink ons ons moet God se genade bly verdien, nadat Hy dit reeds aan ons geskenk het omdat ons dit nooit kon verdien het nie? Ons redding is 100 persent gebaseer op die genade van God. Daar is nie ruimte vir ‘n fraksie van selfs een persent van ‘ek moet dit verdien’ nie. Enigiets wat klink na “Christus Plus Nog Iets” is ‘n verdraaide evangelie. Dis ‘n vervalsing van die ware evangelie, ‘n bedreiging vir ons geloofsekerheid, en ‘n belemmering vir hulle geestelike groei. Die apostel Paulus skryf aan die Galasiërs en wat hy sê, wys duidelik hoe ernstig hierdie Christus Plus Nog Iets is. Hierdie verdraaide evangelie is net so tuis in die kerk vandag as wat dit vir die Galasiërs. En baie mense besef nie hulle is vasgevang in ‘n valse leer nie.
Alles wat verkeerd is in my lewe kan reggestel word
Op 25 September 2000 neem ‘n jongman met die naam Kevin Hins die bus na die bekende Golden Gate brug in San Francisco. Hy kan net aan een ding dink. Spring van die brug af. Maak ‘n einde aan alles. Die stemme in sy kop moedig hom aan. Hy het bipolêre depressie, en is psigoties. In sy boek “Cracked, not Broken: Surviving and Thriving after a Suicide Attempt” skryf Kevin Hins, die oomblik toe hy spring, toe besef hy dit was die verkeerde ding om te doen. Dis 67 meter na benede. Dit neem hom 4 sekondes voor hy die water tref. Die eerste sekonde voel hy die wind. Die tweede sekonde sien hy die water vinnig nader kom. Die derde sekonde besef hy, daar is geen probleem in sy lewe wat nie reggestel kan word nie, behalwe hierdie fout wat hy gemaak het. Net drie sekondes is nodig om ‘n nuwe perspektief op die lewe te kry. Maar hy besef dis te laat. Die vierde sekonde tref hy die water, voete eerste, breek drie rugwerwels, en een enkel. Hy roep uit, “Ek wil nie doodgaan nie, God. Ek het ‘n fout gemaak.” Hy vertel dat ‘n seeleeu hom bo die water gehou het totdat die Kuswag hom kom red het. Dit neem hom lank om te herstel, en vandag is hy ‘n kampvegter om mense te help wat selfmoord wil pleeg. Drie sekondes om te besef: Alles wat verkeerd is in my lewe kan reggestel word. Ek wil nie doodgaan nie. Ek lees daar was omtrent 1800 selfmoorde van hierdie brug af sedert 1937. Net 35 het die val oorleef. Hoeveel van die 1800 het te laat besef, ek wil nie doodgaan nie? Hoeveel het besef, al is my probleme hier op aarde oorweldigend, ek het ‘n fout gemaak? Die besef het te laat gekom. In Psalm 142 vertel Dawid hoe hy gevoel het toe hy die laagste punt in sy lewe bereik het. En hoe God hom gehelp het. Dis ‘n woord vir elke persoon wat so oorweldig voel deur alles wat verkeerd is dat hulle dit ernstig oorweg om ‘n einde aan alles te maak.
1 de 6